Afrikaans

Welkom by die Hoërskool De Villiers Graaff in Villiersdorp. Hier bied ons aan leerders die geleentheid om uit te styg en hul volle potensiaal te bereik!

Wat maak ons die beste keuse vir jou hoërskoolloopbaan? ELKE INDIVIDU MAAK SAAK BY ONS.

Ons is net ‘n uur vanaf Kaapstadlughawe en vervoer word vir ons leerders gereël. Ons is tradisieryk en die juweelskool in die Boland. Met 372 leerders is hier min groepsdruk en leerders floreer in ‘n veilige omgewing. Drie van ons vier koshuise is reeds ten volle gemoderniseer met onder andere wi-fi en DSTV. Ander opgraderings is ook in progressie. Ons koshuise bied ‘n bekostigbare, gestruktureerde, omgee leer- en leefomgewing.

Akademie:

Ons spog met uitstekende matriekslaagsyfers oor die afgelope jare, asook uitsonderlike vakprestasies in die Overbergstreek. Ons kwaliteit onderwysers sal regtig die ektra myl vir elke leerder stap. Vir die laaste 4 jaar is ons skool onder die Wiskunde Top-10 skole in die Wes-Kaap, soos gepubliseer in Die Burger.

Ekstra klasse word na skool aangebied en is gratis. Ons het ‘n wye verskeidenheid vakkeuses en is ‘n dubbelmedium skool, wat verseker dat leerders beter toegerus word vir naskoolse opleiding.

Sport:

Ons is ‘n Krieket fokusskool en het 2 voltydse krieketafrigters, wat ‘n groot verskil maak in krieketontwikkeling – vir meisies ook.

Sterk, groeiende leerdergetalle die afgelope jare het ook die kwaliteit en prestasies van al ons ander sportsoorte noemenswaardig verbeter – van rugby, netbal, tennis, swem, jukskei, skaak, hokkie tot atletiek.

Splinternuwe netbalbane word gebou. Die sportvelde word omring deur berge – dis ‘n belewenis en ‘n voorreg om hier sport te kan doen.

Kultuur:

Die kultuur in die skool is ook geweldig sterk.

Ons bied gereeld produksies aan soos Beauty and the Beast en ‘n groot verskeidenheid ander geleenthede waarin leerders kan uitstyg – van koor,  VCSV, Junior Stadsraad, kuns, drama, joernalistiek, fotografie,  Rooibaadjieprojek, ATKV, Noodhulp, “Biggest Deal”, redenaars en gemeenskapsprojekte. Dan is ons Dissie-Band voet in die hoek lekker! Die orkes verseker ‘n heerlike gees onder die leerders en by sommige geleenthede sing ons almal lekker saam.

Die skoolkalender is ook propvol sosiale aktiwiteite vir ons leerders.

KOM, WORD DEEL van ons waarde-gedrewe, opwindende leerkultuur – waar ons nie net fokus op akademie nie, maar waar ons ook verseker dat leerders op vele terreine geleenthede kry om holisties te ontwikkel tot suskesvolle landsburgers wat verantwoordelikheid kan neem, kanse kan waag en waarde kan toevoeg tot die gemeenskap.

Vriendelike Akkedisgroete,

Me G Loubser