ATKV

13254469_1796174300616516_3737929709185893782_n

Hoërskool de Villiers Graaff  het ‘n Afrikaanse Taal en Kultuur Vereniging (ATKV) jeugtak.

By die ATKV se takafdeling word Afrikaans nie net beleef nie – hier word dit gelééf! Van die oggend tot die aand, van biltong tot beskuit, van Ingrid Jonker tot Koos Kombuis, van Langlaagte tot Londen, van Secunda tot Sydney.

Hier is kultuur ’n passie wat nie net by ’n harts-ding bly nie, maar vinnig in doen-dinge verander. Elke dag voeg ATKV-takke die daad by die woord met ’n program propvol landswye aktiwiteite en projekte.

Natuurlik word dit gedoen vir die pure toonkrul-lekkerte, maar ewe belangrik gaan dit oor die gebruik van kultuur om mense wyd en suid toe te rus met die vaardighede en kultuurdiepte om die land van rugby en sonskyn uit te bou tot die land van hoop en geleenthede!

Ons weet dat Afrikaanssprekendes plesierig is en daarvan hou om te kuier en dinge saam te doen – nie net binne gesin- of skoolverband nie, maar ook as vriende. Die ATKV-takke bestaan uit vrywillige ATKV-lede vir wie kultuurbeoefening so lekker is soos ’n yskoue gemmerbier op ’n snikhete dag! Terwyl jy in Afrikaans kuier, leef en sommer alles doen, ontmoet jy boonop wonderlike mense wat ’n positiewe verskil in jou lewe en in gemeenskappe kan maak.

HOE DOEN ’N ATKV-TAK SY DING

Elke tak doen sy ding deur verskeie innoverende en sigbare gemeenskapsgerigte inisiatiewe, projekte en veldtogte. ’n Tak se projekte en werksaamhede word bepaal deur die inisiatief van die taklede self en hul eie sowel as die gemeenskap se behoeftes. Daar is egter vier hoof-kultuurfokusse waarop takke hul projekte fokus:

TAAL verwys na die geskrewe en gesproke taal.

KUNSTE verwys na die skeppende en uitvoerende kunste.

GEMEENSKAPPE verwys na die omgewing, sosiaal-maatskaplike aspekte en gesinswaardes.

ONDERWYS het die ondersteuning en motivering van opvoeders, leerders en ouers ten doel.

ATKV KOMPETISIES

Dié jaar het ons leerders deelgeneem aan die ATKV Redenaars kompetisie. Leerders vanaf graad agt tot twaalf het die geleentheid gekry om hulself uit te druk op papier en hul toesprake aan ‘n groep voor te dra.

Carolé Franken en Dylan Padayachee het uitgeblink en deurgedring na die volgende rondte, waar Carolé die tweedeplek behaal het in die semi-finale rondte.

Volgende jaar verbeter ons net!

 13923561_667679316723480_3240577127409108890_o                  13661896_667679340056811_7171624256940190754_o